VRA IS VRY.

Vraag 1. Was 'cherubs' nie aartsengele nie?

Antwoord: Gérubs en aartsengele moet onderskei word. Gabriël (Dan. 8: 16; Luk. 1: 26) en Michaël (Dan. 10: 21; Openb. 12: 7; Judas 9) was aartsengele, Grieks: archangeloi. Angelos = engel. Arch-, wat in Nederlands 'aarts' geword het, beteken 'eerste', 'voornaamste'. 'n Aartsengel is dus 'n ver­name engel. 'n Aartsvader is 'n eerste vader, stamvader.

'n Gérub is ook wel vernaam, maar hy het 'n ander funksie. Hy is troonwagter, bewaker van die troon van God. Reeds in Gen. 3 lees ons van 'n gérub wat die paradys bewaak teen die mens. Gérubs was op die ark aangebring en afgebeeld op die wande van die tempel en op die voorhangsel. In Es. 1 en 10 word oor gérubs gespreek. Esegiël sien hulle in 'n visioen. In Openbaring 4 kom hulle weer terug. Terwyl in Openbaring elk 'n gesig het van 'n leeu, jong bul, vlieënde arend en mens, het hulle in Esegiël elk vier van daardie gesigte.

Ons sou die gérubs ook kan noem: die lewende wapenskilde van God wat eienskappe van Hom uitbeeld en Sy troon bewaak.

Daarom was dit ook so 'n wonder dat die Lam die troon kon nader. Hy was sondeloos en die gérubs het, om met Totius in Ps. 89 te spreek, vir Hom die vleuel gestryk.

Aartsengele word meer gebruik as afgevaardigdes, ambassadeurs, saakwaarnemers, gesante van God.

Daar is dus wel deeglik verskil.

Vraag 2. Die mens word in sonde gebore. Solank hy lewe, is hy geneig tot alle kwaad. Beteken dit dat 'n mens sy lewe lank ewe sondig bly ongeag of hy gelowig of ongelowig is? Is 'n Christen dus net so 'n sondige mens as 'n nie-Christen? Wat beteken in hierdie verband wedergeboorte, en die wedloop waarna Paulus verwys?

Antwoord: Is 'n Christen 'n net so sondige mens as 'n nie-Christen?

Ook 'n Christen is van nature geneig tot alle kwaad. Daarom kan 'n Christen ook soms baie diep val. Daar is mense wat aan 'n perfeksionisme glo: daar is 'n volmaakbaarheid, jy kan hier in die lewe op 'n stadium kom waarop jy geen sonde meer doen nie.

Die Bybel is in hierdie opsigte realisties. Ons kan nie sę dat ons geen sonde het nie en as ons dit wel doen, bedrieg ons onsself. Lees 1 Joh. Sien ook in hierdie verband die Dordtse Leerreëls, wat uitvoerig op hierdie punt ingaan.

Die verskil tussen 'n Christen en 'n nie-Christen is nie dat die een meer sondig is as die ander nie. Die verskil is dat die een vanuit homself wil lewe, en die ander vanuit Christus. Die Christen is doelgerig: die wedloop van Fil. 3! Die wedergebore hart streef, jaag, na volmaaktheid. Dit word egter in hierdie lewe nie bereik nie.

Onthou: daar is ook heidene wat so 'n doel het. Dink aan die boeddiste. Maar hulle doen dit nie vanuit Christus en vanuit die Woord nie. Anders sou die boeddiste nie na selfuitblussing en selfvernietiging strewe nie.

Verskil is dus insake aandrywende krag, rigting en kompas (bybel).

Vraag 3.

(a) Ons het geleer dat koninkryk van God koningskap moet wees. In Lukas 13: 28 word die koninkryk van God as 'n feesmaal voorgestel; kan 'n mens in hierdie geval ook van koningskap praat?

(b) Waarom word daar in die Gereformeerde kringe meer van koninkryk van God gepraat as van die verbond?

(Namens die Bybelstudiegroep van Sunnyside-Brooklyn-Waterkloof).

Antwoord:

(a) Daar is in Lukas 13: 28 duidelik 'n ruimtelike beeld.

Abraham/Isak/Jakob/al die profete IN, binne-in, die ryk van God. Maar julle NA BUITE, buite-toe, weggewerp, uitgebanne, weggestoot, weggejaag.

Die teenstelling is dus : BUITE X BINNE.

Regeer God nie daarbuite met Sy Koningsmag nie?

Natuurlik.

Maar 'koninkryk' het hier die spesifiek gunstige betekenis: die regering TEN GOEDE. 'Koninkryk' het hier dus 'n plus-betekenis. Dit dui nie maar net 'regering' aan nie, maar 'n regering WAT DIE HEIL EN VERLOSSING VAN ISRAEL SOOS DIT AAN DIE AARTSVADERS ('eerste vaders') EN DIE PROFETE BELOOF IS.

By 'koninkryk' spreek dus mee die GAWES van die regering van God. In Lukas 13: 28 skep die koningskap 'n feesmaal, waarop die heilsgoedere uitgedeel word. Dit gaan nie maar hierom dat die genooides binne 'n bepaalde gebied ('koninkryk') kom nie, dog dat hulle binne die regeringsmagsgebied van God kom.

Die woord 'koninkryk' is baie keer doodgespeel soos 'n plaat wat jy al maar hoor. Hoe vertaal ons hier? Ek wil slegs tentatief hier die woord 'regeringsgebied' of 'Koningsmag' voorstel. Om goed te vertaal is baie moeilik, omdat woorde soms 'n pluswaarde het wat ons met méér woorde sou om skrywe. Die bedoelings is : 'Abraham, Isak en Jakob BINNE die sfeer waarin die koningskap van God hom volgens die beloftes ontplooi'. Dit staan dan teenoor hulle wat volgens die Koninklike tug van God se Koninskap verban (buitetoe weggejaag) is.

Ons het hier te make met 'n hofstyl.

Vergelyk Openbaring 11: 2 en 12: 9, 13.

Wanneer besef word wat 'koninkryk' beteken (Koningsmag, uitoefening daarvan) is die korrekte woord wat ons besig nie só be1angrik nie. Omdat deurgaans by 'koninkryk' net aan 'n gebied gedink word en nie aan die gebod van-uitoefening-van Koningsmag nie, is dit m.i. altyd beter om by die bepaling van die betekenis UIT TE GAAN van die woord 'Koningskap'.

(b) Die tweede vraag in hierdie verband vereis 'n bietjie agtergrondstoeligting. Juis nie net in Gereformeerde kringe, maar ook in die algemeen word ten aansien van die Nuwe Testament die woord 'koninkryk' verkies bo die 'verbond' wat 'n plek kry in die Ou Testament. Daar is 'n Guide To The Old Testament van David Waite Yohn. As jy die opskrifte nagaan is dit al 'covenant' wat die klok slaan. Breaking open the Covenant Faith. The Uniqueness of Covenant Life. The Nerve of Covenant Life. And so on. Wanneer hy in die volgende deel die Nuwe Testament behandel, is die woord 'covenant' missing. Totally missing. Hoewel hy begin met Gen. 12: 1-9 en Ex. 15: 1-11 : Faith of our Fathers, en : Yahweh is His Name.

Die oorsaak?

Yohn spreek van die 'old age', die ou bedeling. Dit is die Ou-Testamentiese tyd. Daarna kom die 'drastic revaluation of mankind' : die koninkryk van die Seun van die mens. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. As derde kom dan daarna die koninkryk van God die Vader.

Dit is maar 'n voorbeeld van die manier waarop 'n soort kontras tussen die Ou en Nuwe Testament gemaak word.

Gaan ons egter dieper op sake in, dan blyk dat dit heeltemal onjuis is om 'n teenstelling te maak tussen verbond en koninkryk.

In die Ou Testament word net so goed gespreek van die koninkryk as in die Nuwe. Dink maar aan die Psalms 93, 96 en 99. En omgekeerd : in die Nuwe Testament is die verbond net so grondliggend as in die Ou Testament. Ek mag miskien verwys na my publikasie wat hierdie maand net uitgekom het : Het Nieuwe Testament: Boek van het Verbond (Oosterbaan en le Cointre, Goes).

Die koningskap van God hang ook saam met die verbond. Want in die verbond openbaar die Groot Koning Hom. Hy sluit 'n verbond met Sy vasalle en wil as Koning geëer wees, en gee as Koning Sy genade of dreig met Sy oordeel. Die verskil tussen ou en nuwe verbond is dat in die nuwe verbond die OPENBARING van die koningskap groter is in Jesus Christus. Daarom begin Johannes die Doper met om te sę dat die koningskap van God vlakby is. En daarom bid ons ook om die koms daarvan. In Christus het die koningskap gekom.

Omdat ons deurgaans die koninkryk sien as 'n organisasie, 'n terrein (bv. 'n Christelike universiteit) en omdat die Wysbegeerte van die Wetsidee dit baie keer losmaak van die kerk, dreig die woord koninkryk om te versmal, te versteen en te veruitwendig. Veral die laaste! Dit is daarom noodsaaklik dat ons die verbond en die koningskap in één lyn sien en terugkeer na die Skriftuurlike spreekwyse. Hy wat oor die verbond spreek is met die koningskap van God besig, want die ver­bond is die relasie van ons tot die Groot Koning.

Die terugdringing van die (leer oor die) verbond is oorsaak van die prominensie wat aan 'koninkryk' gegee word. Hierby word dan echter 'koninkryk' losgeruk van die 'wyse waarop dit tot ons kom : deur die Woord van die verbond wat die kerk mag predik. Die gemeentes hanteer immers die sleutels van die koninkryk van die hemele?

V.d. W.