SELEKSIE EN INFORMASIE

Seleksie is om uit te kies. In Friesland praat hulle van erdappel-seleksie. Die erdappels word gesorteer in klasse A, B, ens. Seleksie is noodsaaklik vir die lewe. Aa jy byvoorbeeld oor dr. Verwoerd iets sê, kan jy nie alles vermeld nie, maar is jy geroep om die tiperende na vore te haal.

Soiets is egter baie belangrik. Deur toepassing van verkeerde seleksie kan jy 'n verkeerde indruk skep. Jy kan sommige belangrike punte weglaat en ander, minder dominerende sake benadruk. Dan kry jy 'n skewe beeld.

Voorbeelde: In (neo-) marxistiese kringe is dit gebruiklik om oor die Ou Testament te spreek. Die nadruk word dan gelê op die sosiale prediking van die profete. Dat hulle van die verbond uitgegaan het, of dat hulle die Messias voorspel het, word dan verswyg en hulle word as pre-marxiste voorgestel.

So 'n 25 jaar gelede het ek 'n Afrikaanse skoolboekie ingekyk wat ook oor Nederland gehandel het. Al wat vermeld is, was: Rembrandt, tulpe en dyke. Dis al. As mens oorweeg dat Nederland nog altyd die moederland is, dan is hier wel 'n uiters selektiewe informasie gegee wat Amerika nie kan verbeter nie. En dan kla ons nog dat die twee lande uit mekaar groei!

Een van die magte wat verkeerde seleksie bevorder is die wetenskap. Die wetenskap tree baie keer soos 'n diktator op. Stel riglyne vas. As die wetenakap byvoorbeeld die Reformasie on­belangrik vind, dan kry jy - soos by dié skoolboekie - dat dit by die verskaffing van informasie verswyg word. Hier te lande word byvoorbeeld by geskiedenis wel die Franse Rewolusie sentraal gestel, maar nie die Reformasie-tydperk nie.

Seleksie deur die Afgod Wetenskap kan daartoe lel dat jy as 'leek' heeltemal om die bos gelei word.

Voorbeeld:

Die Vrymaking is 'n belangrike feit in die kerkgeskiedenis.

Maar as mens 'n prysvraag sou uitskrywe oor vermelding van die Vrymaking in boeke oor kerkgeskiedenis in ons dierbaar Suid-Afrika, sou jy 0,0 as resultaat kry. Die Vrymaking BESTAAN eenvoudig nie. Dit is uitgeselekteer. Nugter mag weet waarom, maar dit is so. Daar bestaan alleen maar die GKN en dis die sinodale kerk in Nederland. En nog altyd moet ek aan teoloë duidelik maak wat 'art. 31' beteken.

Ander voorbeeld:

Van sê maar 1550 tot 1900 het die gedrukte Griekse Nuwe Testament die sogenaamde Textus Receptus bevat. Dit was ongeveer die erkende kerklike teks. Dr. E. Nestle het egter op grond van handskrifte omstreeks 1900 'n nuwe uitgawe gegee van die N .T. Dit het die Textus Receptus heeltemal verdring, sodat dit vandag nog slegs antikwaries verkrygbaar is. Ook in Kampen het ons Nestle (nie Nestlé nie, want dit kan jy eet) gebruik en die Textus Receptus was uit die kwessie. Greijdanus is selfs geskilder met Nestle in sy hand. Daar wás niks anders as hierdie geselekteerde teks nie.

Nou kon jy in Nestle nog op 'n manier in die aantekenings die Textus Receptus enigsins terugvind. Vandag is daar 'n uitgawe van die UNITED BIBLE SOCIETIES wat nog meer geselekteer het en die meeste van die Textus Receptus nie verneld nie. Hierdie uitgawe word by AL die nuwe vertalings in die wêreld gevolg!

Ander voorbeeld:

'n Onlangse opname in twee Universiteitsbiblioteke in Pretoria het uitgewys dat die boeke van K. Schilder uiters onvolledig aanwesig is. Verder kan elkeen konstateer dat in proefskrifte wat oor sake gaan waaroor hy hom uitgelaat het, hy maar min siteer word. Dit lyk soms of Suid-Afrika alergies vir Schilder is. (Ons het hoop dat dit verbeter, maar dis toekoms). Die oorsaak is baie meer ook te soeke in studie aan die Vrye Universiteit of Kampen-sinodaal. Maar die feit is daar. K.S. bestaan nie, want 'die' wetenskap het hom afgeskryf.

Ander voorbeeld:

By my studie oor Openbaring het ek agtergekom dat baie kommentare oor Openbaring wat dit (geheel of gedeeltelik) toepas op Jerusalem se ondergang gewoonweg tussen wal en skip verdwyn het. Hulle word nie meer in opsommings genoem nie, is nie in biblioteke nie, hulle is uitgesuiwer. Daardeur ontstaan 'n verkeerde beeld asof daar altyd 'n mening was dat Openbaring teen Rome getuig.

In die vorige eeu het die Afgeskeidenes baie gepubliseer. Deurgaans was dit geen luukse uitgawes nie. Kuyper het wel met standaardwerke gekom. En hy het ook die mite aangehelp dat 'Kampen' nie wetenskaplik sou wees nie. Sodoende het die afgeskeie literatuur weggesak in die vergetelheid.

So het dit selfs met '1905' gegaan. As 'n lesingsverslag van Schilder dit nie sou afgedruk het nie, sou ons nooit geweet het wat daarin staan nie.

En so kan ek verder gaan. Bepaalde rigtings het hulle op kleine skaal in klein geskriffies geuiter (byvoorbeeld die anti-gesange mense). En hoe belangrik hulle ook al was, die selektiewe benadering het hulle laat verdwyn.

Moraal: Staan krities tenopsigte van 'die' wetenskap en 'die' gangbare mening en 'die' wetenskaplike mode. Hulle speel baie keer met vals kaarte, laat dinge u1t hul kaartsisteem uit. Dink maar weer aan : Nederland = Rembrandt, tulpe, dyke.

Hier lê ook die betekenis van historiese ondersoek en die Bybelse benadering.

Toe Postma hier gekom het, het mense gekla dat aan hulle informasie oor die Afgeskeie kerk in Nederland onthou is.

Vandag is die selektiewe informasie orals aan die gang, nie net op kerklike werf nie, maar ook op skole, in die pers en op die radio. Jy kry grootste-gemene-deler-sop. Kenmerkende standpunte of gegewens word uitgelaat.

Daarom is kritiese studie noodsaaklik. En ook : kritiese informasie. Daarom is die stigting van eie vorme van onderwys en onderwys-begeleiding so noodsaaklik. Vandag is die meeste wetenskappe in hande van pragmatisme en baie keer van neo-marxisme wat opsetlik verkeerd selekteer.

Vraag: Het die eerste gebod dat ons geen ander gode mag dien nie ook konsekwensies ten aansien van:

selektiewe informasie
in naam van die Afgod Wetenskap?

VdW