HOEK VAN DIE BOEK.

Aankondiging.

Onlangs het drie publikasies van my hand verskyn wat hierby nader bekend gestel word.

1. En zij zingen een nieuw lied. Over Psalmen en Gezangen. Uitgawe: Drukkerij de Nijverheid, Oudkarspel, Nederland.

Hierdie brosjure gee enige informasies oor die gebruik van Psalme en Cantica (byvoorbeeld lied van Moses) in die kerk. Dit pleit vir die sing van al die Psalms (geen seleksie) en die Cantica (wat deurgaans nie berym is nie, helaas). Verset word aangeteken teen invoering van vrye liedere (gesange), terwyl die Bybelse gesange nie eers gesing kan word nie. Motief teen invoering van Gesange is ook dat hulle die Psalms wegdring en daarmee tewens die verbondsgedagte en die Ou-Testamentiese verwysingsvlak. Hoe het die Nuwe Testamentiese prediking die Psalms as basis gebruik. Tenslotte is 'n invoering van Gesange ook 'n afkeuring van die houding wat die Afskeiding en die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ingeneem het.

Ons moet nie dink dat hierdie punte net vir Nederland belangrik is nie. Ons kan op twee dinge wys:

  1. Die stigting van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika hang nou saam met die verset teen die Gesange wat afgedwing is.
  2. Vandag is die Hervormde en NG Gesangebundel in bewerking. Die aantal gesange sal verdubbel word (± 300). Dit beteken dat die skole ook hiermee te doen sal kry en dat die Psalms nog meer op die agtergrond sal kom.

Ons hoop darem dat ook binne die Gereformeerde Kerk van hierdie publikasie kennis geneem sal word, want deur die nuwe Gesangebundel kom die ou-Dopperbeginsel al meer in die verdrukking.

2. Het Nieuwe Testament : Boek van het Verbond. Uitgawe: Oosterbaan en le Cointre, Goes, Nederland.

Hierin word kortliks 'n soort 'teologie van die Nuwe Testament' gegee. Geaksentueer word hoe die verbond ook die Nuwe Testament beheers.

Dit is my oortuiging dat ons te lank agter die algemene' teologie aangeloop het en moet begin om vanuit ons Gereformeerde belydenis die Nuwe Testament te verklaar. Ons sal dan van verskillende dinge moet wegbreek. Maar dit sal vrug afwerp.

In hierdie boek is rekening gehou met o.m. die stellings van die Suid-Afrikaanse Full Gospel-mense wat dispensasionalisties is. Ook is rekening gehou met die charismatiese beweging. Uitgegaan is van die stelling dat al die N.T.-boeke vóór die jaar 70 geskrywe is en dat ook die tekene en wondere (en die charismatiese tongetaal!) in daardie periode tuishoort.

Dit is vir my 'n vreugde om te kan meedeel dat 'n Engelse vertaling sal verskyn en dat dit ook in Potchefstroom vir nagraadse studie voorgeskryf sal word. Moontlik kan op verenigings en/or katkisasie hieraan ook aandag bestee word. Die maak van vraelyste hierby is beplan.

3. De Grote Constante in het laatste Bijbelboek. Antwoord en oproep. Ook uitgegee by H. de Jong, Oudkarspel, wat self ook 'n Voorwoord geskryf het.

Hierdie brosjure is 'n antwoord op die artikels van ds. Joh. Francke in sake my boek: En het zal geschieden in de laatste dagen ... en oor Openbaring in die algemeen.

Dwarsdeur hierdie brosjure is gepleit vir 'n verbondsmatige verklaring van Openbaring. Aangesien die Nederlands Dagblad nie bereid was om 'n antwoord op ds. Francke te publiseer nie, is oorgegaan tot die skryf van hierdie brosjure. Gepoog is om vanuit die Skrif 'n duidelike antwoord te gee en so die diskussie oor hierdie punt te bevorder.

Aldrie publikasies is baie voortreflik uitgegee en van interessante illustrasies voorsien. Dit was 'n plesier om met die onderskeie uitgewers saam te werk en hulle het ook hul 'inbreng' gehad ten aansien van die inhoud deur stimulering en kritiek. Dit was 'n vreugde om so deur samewerking tot 'n afronding te kan kom. Ondanks noukeurige korreksie het hier en daar 'n fout voorgekom. Ons noteer ten aansien van No. 2 : p. 78, tweede reël van onder staan: Hand. 7: 1-9. Dit moet wees: Hand. 17: 1-9. Op p. 23, 4e reël van onder: 1 Cor. 1: 36. Dit moet wees : 1 Cor. 14: 36. Op p. 143 reël 6 van onder staan: Hand. 6: 36. Dit moet wees: Hand. 7: 36. Maar soiets is by mensewerk nou eenmaal onvermydelyk. Insake tikwerk het ek uit die gemeente hulp gekry en ook daarvoor hier my hartlike dank. Die posisie van ons Rand maak die Nederlandse boeke vir Suid-Afrika betreklik duur. Ons moet egter onthou dat daar nog altyd onder ons 'n selektiewe benadering van hierdie probleem is. As jy jou motorperd met petrol volgooi betaal jy, want dit is 'n 'must'. Boeke sien ons nog altyd as 'n luukse en gee hulle geen prioriteit nie. Daar is aanleiding om hierdie selektiewe benadering in heroorweging te neem. Natuurlik is daar ook wel moontlikheid om via biblioteke boeke in die hande te kry. My ervaring is dat ook dit te min gedoen word en dat die geld nie die deurslaggewende faktor is nie. M.i. sit die saak vas op ons instelling ten aansien van informatiewe lektuur (oor ontspanningslektuur praat ons hier nie, hoewel vir baie mense ernstige boeke ook 'n ontspanning vorm). Daar sal onder ons die besef moet ryp dat boeke nodig is om ten aansien van oriëntering op bepaalde punte mee te kan praat en leiding te kan gee. (En dus nie net 'as 'n onderwerp op die vereniging daaroor het' nie).

VdW