WERKRAPPORT.

Eintlik is daar - dis nou half Januarie - soveel te vermeld dat met enkele punte volstaan moet word.

Allereers is daar kontakte gemaak. Daaroor kan later een en ander vertel word, maar nie alles is vir die pers bestem nie.

Verder is die kopie van die komende Reformasie-Serie­boek (Het N.T. : Boek van het Verbond) afgehandel. Ook die kopie van die dissertasie oor Melito wat in Potch. gedruk word en hierdie jaar sal verskyn. Altwee met interessante illustrasies.

Daar is 'n brosjure geskryf oor: En zij zingen een nieuw lied. Dit sal in Holland verskyn en gaan oor Psalms en Gesange. Aangetoon word dat nie gesê kan word dat Gesange 'n wins kan wees bo die Psalms nie. Na Nederlands Dagblad is ook Ingesonde Stukke deur my gestuur wat kritiek lewer op die voorgestelde Gesange. Twee van hierdie stukke is reeds geplaas.

Verder is 'n ingesonde stuk gestuur na De Reformatie insake 'n artikel van prof. Douma wat Suid-Afrika aanval. Hierdie stuk is mede opgestel en onderteken deur J.A. Boon en ds. L.H. Stavast.

Aan die kopie van Openbaring II is verder gewerk en ons gee die hoop nie op nie dat dié kopie wat sedert 1963 daar is, tog na 15 jaar gepubliseer kan word. Uiteraard moet elke jaar die kopie weer bygewerk word gesien later publikasies. 'n Groot opgawe, omdat jy telkens daarby jou beperktheid besef en die stof telkens voor jou nuut moet laat wees. En baie moet oorgetik word.

In verband met die resensie van ds. Francke oor: En het zal geschieden ..... is 'n Ingesonde artikel naar Nederlands Dagblad gestuur. Dit is geweier (hoewel 'n rooms blad skryf dat dit uitsien na 'n reaksie). Toe die uitgewer 'n bladsy wou koop waar die artikel as advertensie sou geplaas word, is dit ook geweier. 'n Verdere advertensie is ook geweier deur N.D. 'n Merkwaardige vorm van eiesoortige ontwikkeling, des te meer aangesien dit wel aan ds. Boersma toegestaan was om in N.D. op vrae oor sy boek te antwoord.

Aan Pro Ministerio ('n private huisorgaan van die geref. pred. verg.) is versoek om 'n teenwoord teen 'n rede van ds. Bouma (waarin hy ingegaan het op my Openbaring I) alsnog te plaas. Geen antwoord is nog ontvang nie.

Ons sal maar afwag hoe dinge verloop. Moontlik kom tog 'n geleentheid om op sake in te gaan. Die saak verdien dit. Dit gaan immers om die groot konstante: die verbond.

Einde Januarie sal verder D.V. 'n kongres van die Suid-Afrikaanse kerkhistoriese werkgemeenskap bygewoon word en 'n gedeelte van 'n sendingskongres.

V.d. W.