Constanter - volhardend.

Toe ek die beroep na Pretoria ontvang het, het daar stapels briewe gekom. Agteraf na alles wat gebeur het, interessante lektuur. Van broeder J.C. Jansen het geen brief gekom nie. Hy was ook teen die beroep omdat almaal daarvoor was en dit kon hy nie rym nie. Maar hy het 'n Gids van Pretoria gestuur. Dit tipeer hom.

Nie elke gemeente herberg aristokrate na die gees nie. En seker geen emigrantegemeentes nie. Wyle meneer Jansen (só is oom Johan met nadruk genoem) wás ondanks sy agternaam wat die meesvoorkomende in Nederland is, 'n aristokraat, en daarin het ons 'n ongekende rykdom gehad. Hy was in staat om aan ons gemeente 'n stempel te gee wat 'n geslag gevorm het.

Lewendig herinner ek my die eerste ontmoeting. Dit was op die kennismakingsaand. Ek was verlangend om hom te sien. Maar dit het gegaan soos by die salwing van Dawid. Elkeen het sy opwagting gemaak, maar geen meneer Jansen nie. Tenslotte het hy op behoorlike afstand van die ander as laaste opgedaag en met een oogopslag het ek gesien: hier is iets besonders. En dit was dit en het so gebly.

Uit artikels in koerante het ek reeds hom leer ken. 'n Uitstekende kennis van die historie. 'n Man met 'n allesbehalwe bekrompe uitsig. Daardie uitsig is in die loop van die jare verdiep. Wat het ons leersame aande gehad in die kring wat ons georganiseer het. Hoe is die een onderwerp na die ander behandel. Hoe het hy ook tot veel dinge gestimuleer.

By dit alles moet geaksentueer word dat ondanks die golwe wat ons moes deurkruis,oom Johan trou en vol harding in dïe loopgrawe aan die dag gelê het. 'Standvastig is gebleven / Mijn hert in tegenspoed'. Broeders uit die kerkraad herinner hulle nog wel 'n toespraak wat hy daar gehou het met die wederkerende refrein: 'En Pretoria trilde op zijn fundamenten'. Hy was 'n gebore edelman wat die koers gewys het en op 'n besonder eiesoortige wyse leiding gegee het aan jonk en oud.

Hoeveel terreine was daar nie waar hy gehelp het nie: Wie was die spreker as daar 'n besoeker moes bedank word? Hoe Was hy trou op die mannevereniging, op die redaksie van Kerk en Woord. Die sending het hy in sy laaste dae nog gehelp deur op groot plakkate Psalms in Sotho te skrywe. Die studentevereniging het sy intense belangstelling gehad. As ouderling en diaken het hy sy plek volgestaan op sy eie tiperende manier. Sy handskrif was net so kenmerkend as sy originele optrede.

Constanter.

Volhardend, trou, ook in die kleine.

In Kirstenbosch staan 'n gedenkteken: Wil jy sy monument sien, kyk om jou heen. So is dit ook met meneer Jansen. Kyk om jou heen: Ons kon hy deur God se genade stempel. Met watter plesier kon hy nog die jeug toespreek op die laaste kongres. Hoe het hy vir almal oopgestaan om in klein dingetjies te help.

Gereformeerdes is bang om in mense te roem. Daar moet altyd bykom: ondanks sondes en gebreke. Maar ons mag wel roem in God se genade. God se genade wat in mense uitkom wat Hy standvastig maak. Broeder Jansen het die groot 'konstante' gesien én vasgehou, die verbond. Laat ons hom, die voorganger, volg - juis deur trou in die kleine.

Professor Fabius het 'n keer geskryf oor gereformeerde aristokrasie. Hy het natuurlik nie bedoel gereformeerde spoggerigheid nie. Maar wel 'n vashou aan die belydenis, juis in die leierskap. Aristokrasie is nie 'n kwessie van rykdom nie, maar van instelling. In hierdie demokratiese tyd was ons ryk met hierdie gereformeerde aristokraat en ek weet stellig dat ook mense buite ons kring tot prof. dr. J.H. van den Berg toe, só van hom gehou het.

Laat ons self 'n monument van hom wees. Dit sal 'n groot taak word. Maar meer as mense is Jesus Christus standvastig. Aan Hom die lof!

v.d. W.