CHRISTENDOM IN DIE VERRE OOSTE.

Daar is Suid-Afrikaners wat blykbaar baie geld het en 'n naweek in Japan gaan kuier. Maar dit het nog min bygedra tot ons kennis van die Christendom in die Verre Ooste. Ook in hierdie tyd van toenemende internasionalisering is die onbekendheid hieroor groot.

In 1971 het professor Peter Beyerhaus 'n besoek: aan daardie gebiede gebring. Beyerhaus was destyds verbonde aan die Lutherse Teologiese Kollege in Umpumulo, by Stanger in Natal. Tans is hy in Duitsland en hy is bekend om sy teenaksie teen die Wêreldraad van Kerke. Hy het ook die afgelope konferensies daarvan in verskillende boeke gepubliseer. In een daarvan word selfs in die literatuuropgawe my Antithese of Synthese? en Liquidatie der Reformatie vermeld, 'n beskamende feit as mens daaraan dink dat sekere Nederlandse kringe dit doodgeswyg het. Beyerhaus kan Nederlands lees om­dat hy Afrikaans enigsins magtig is. Origens: dat hy hierdie boeke in besit het, das verdanken wir Kampen (Bruderweg), waar hy 'n keer toe hy daar gespreek het, hulle present gekry het.

Van sy reis het Beyerhaus 'n verslag gegee in sy boekie: In Ostasien erlebt, Stuttgart 1972.

Ons gee daaruit enkele flitse deur met hier en daar kommentaar.

Japan.

Die beheersende godsdiens is die Sjintoïsme. Ons in Afrika kan dit vergelyk met die Bantoe-religie. Sjintoisme is namelik 'n voorouerverering wat nog 'n sterke appèl op die bevolking het. Groot heiligdomme getuig daarvan. Dat die spiritisme hierdeur bevorder word (voorouergeeste!) kan duidelijk wees. Ons verwys in hierdie verband na Brasilië met sy Afrikaanse negerinvloede, waar ook die spiritisme algemeen heersend is.

Die groot kerk in Japan se naam is die kyodan. In daardie kerk word verering van die Voorouers toegelaat. Tydens die laaste oorlog was elkeen verpligomvoor die staatsheiligdomme hulde te betuig en die kyodan het dit nie teengestaan nie. Die kyodan neem dus 'n ander houding aan as die eerste christelike kerk wat hom bewus teen die keiserverering versit het. Die rol wat Japan (bondgenoot van Duitsland!) in die oorlog gespeel het, was mede beheers deur die keiserverering.

Die studente van die kyodan is rewolusionêr ingestel en leer liewer sosiologie as eksegese. As ons hier 'n opmerking mag maak: laat ons ons in Suid-Afrika hieraan spieël. Die tyd kom en is reeds daar dat Swart teologiesestudente deurtrek word van die teologie van die rewolusie. Duidelik het by die Geref. Ekumeniese Sinode in Kaapstad aan die lig gekom dat ook N.G. moroetis daarvoor kant gekies het. Onthou: 16 Junie 1976 en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode het saamgeval!

Die drang na selfstandigheid uiter hom ook in die Japanse kerk. Derhalwe: Japan het geen sendelinge meer nodig nie! is die algemene gedagte. 'Im theologischen Denken der Theologie-studenten existiere der Missionar im Grunde überhaupt nicht' (p. 38). En dit, waar nog so baie heidene is wat die meerderheid vorm!

Aan hierdie ontwikkeling sal m.i.

a.   'n sug naar selfstandigheid;

b.   'n verburgeliking van die Japanse kerk,

c.   dominokrasie

skuldig wees. Maar ook sal ons nog met wat anders moet reken. In baie kringe, met name roomse, is die gedagte dat ook ander godsdienste goed is. Hul aanhangers is anonieme christene.

In Japan het Beyerhaus pater Lasalle ontmoet. Hy propageer die Zen-Boeddisme. Meditasie, in die Al opgaan, ens. Hy glo dat ook aanhangers van ander religies wat dit beoefen, God ontmoet. Soos ons weet staan ook Vaticanum II soepel teenoor ander godsdienste. En in Roomse kringe is baie onseker­heid noudat allerlei teoloë van die Weste met die mees humanistiese bewerings kom aandra.

Japan is ook die land van nuwe godsdienste.

So is daar die Sokagakai wat 17 miljoen aanhangers het en in ledetal (deur terroristiese metodes) groei. Lede moet die formule: 'Jou vertrou ek heeltemal, o groot geheimenis!', baie keer 'n uur lank daagliks opsê. Via 'n hiërarchiese sisteem is die organisasie opgebou. Daar is 306 tempels.

Die kyodan, Anglikane en lutherane is verenig in die Nasionale Christenraad van Japan wat 'n onderafdeling is van die Wêreldraad net soos ons in Suid­Afrika ook 'n Raad van Kerke het.

Maar daarlangs is dan nog die evangeliese (evangelicals) van allerlei tipe. Die meeste buitelandse sen­delinge in Japan is trouens evangelies. Rulle wys die samewerking met die Nasionale Raad (NCC) beslis af en het hulle saamgesluit in die Japanse Evangeliese Alliansie. Verdeeldheid, maar ook beïnvloeding deur heiligheids- en charismatiese beweging tipeer hierdie groep helaas.

So is dit maar orals.

Die 'groot kerk' is lou en liberaal.

Die 'vrye kerke' is soms aktief, maar baie keer swewend in die belydenis, ook al beaam hulle die fundamente van die geloof.

Beyerhaus is luthers en hy was blykbaar nie met die Gereformeerde kerk in Japan in aanraking nie. Hierdie kerk wil 'n belydende kerk wees. Onlangs het een van sy voorgangers gesterf wat besig was om Christus en Cultuur van K. Schilder te vertaal. Daar word ook gesê dat Calvyn 'n bestseller in Japan is. Lê hier perspektiewe vir Sola Scriptura? Nooit kan 't geloof te veel verwachten. Japan bied onuitputlike moontlikhede en ons mag ons belangstelling vir wat hom daar afspeel op kerklike terrein nie laat verslap nie.

Hoe Japans die prentjie ook al is: die getekende beeld wys op trekke wat orals voorkom en ons aan laat dink.

Hongkong. Beyerhaus het ook Hongkong besoek. Vier miljoen inwoners en die helfte is vlugtelinge uit Rooi-Sjina! Ontsaglike weelde langs ontsaglike ellende.

In 1997 loop die ooreenkoms tussen Engeland en Sjina af insake die beheer van Hongkong. In 1898 het Enge­land dit immers vir 99 jaar in pag verkry. Niemand durf in Hongkong, waar Rooi-Sjina ook groot belange het, iets teen die Sjinese Republiek te sê nie. Hulle handel en wag maar af. Spreek/sien/hoor geen (kommunistiese) kwaad.

Beyerhaus vertel dat met name belydende Noorse sendelinge onder die agterbuurtbevolking werk. Een sendelingsegpaar het selfs besluit om nie in die villabuurt te gaan woon nie, maar het solidêr met die bevolking in 'n woonstel getrek. Hierdie daad het sy moeilikhede saamgebring, dit kan ons aan die dink sit. Hoe moeilik is dit baie keer vir die sendeling as hy nie een woord met die bevolking kan praat nie! (Den Joden een Jood, den Grieken een Griek). Sou 'onder ons' hierdie punt wel genoegsaam deurdink gewees het? Ek vra maar net.

Origens, wat van, die Christene in Hongkong as Rooi-Sjina oorneem in 1997?

Taiwan (Nasionalistiese Sjina). In Taiwan het Beyerhaus 'n sendings-teologiese konferensie toegespreek in die grootste seminarium van die Presbiteriaanse kerk. Die vergadering was interkerklik, ook Roomse was daar, maar min evangeliese het dit gewaag om te kom om hul gesig by hul gemeentes nie te verloor nie. Die eerste dag het dit oor die Verklaring van Frankfurt gegaan. Daarin het die belydende deel van Duitsland hom skrap gesit teen die modernisme.

Beyerhaus maak hierdie belangrike opmerking dat dit sy algemene ervaring is dat die evangeliese welmet hierdie verklaring simpatiseer, maar dat hulle baie keer teologies die dieptes daarvan nie verstaan nie.

Hulle ken eenvoudig nie goed die agtergronde van die Ekumeniese Beweging nie. Hulle het nie eers die dokumente gelees nie. (p. 98)

In Taiwan het daarom ook die evangeliese wat daar op die vergadering was, vrywel stilgebly.

Dit is ook my ervaring.

Deurgaans word gestel : ons het niks met die moderniste te make nie, dus neem ons geen kennis van hulle nie. Die gevolg is natuurlik dat so 'n 'fundamentalisme' be­vorder word wat baie ondiep is. Hierdie houding kom ook in Gereformeerde kring voor en is in Vrygemaakte kringe helaa nie seldsaam nie. Dit breek in feite die krag van die regsinnige deel, want daar ontstaan 'n vanselfsprekendheidsgeloof. Die noodsaak van teologie word dan ook nie besef nie en net ou leuse word herhaal. Juis 'n 'christendom' wat apologeties die belydenis verdedig, is in staat om sy tyd toe te spreek en ..... met gesag.

Daarom is ook telkens weer nuwe besinning nodig, nuwe eksegetiese en dogmatiese studie. Anders gaan die regsinnige teologie lyk soos 'n outydse tannie met 'n Viktoriaanse gewaad. En .. hierdie tannie is dan ook 'n bietjie bang om met die grootkoppe van vandag te praat. Daarom sê sy maar dat sy niks met hulle te doen wil hê nie.

Terug na Taiwan! Die Boeddisme beleef daar vandag 'n oplewing. Orals nuwe tempels. Skerp daarteen steek die loue houding van die Presbiteriaanse kerk af. Ook aan sending word nie baie meer gedoen nie. Die meeste aktiwiteit word nog gesien by die evangeliese splintergroepe wat geen doelgerigte sendingstrategie het nie. (p. 103)

Ons het van 'n rasionalistiese eeu gekom in 'n spiri­tualistiese. Net bewegings wat daarop dien aksent lê, vind aanhang, Christelik of nie. So is dit orals. Ook in die - ook deur Rooi-Sjina - bedreigde Taiwan.

Korea. Hoewel Beyerhaus op sy reis Korea nie aangedoen het nie, sê hy wel iets daarvan.

In Korea is ... 8000 teologiese studente. Hierdeur is dit nie nodig om ongeskoolde mense vir kerklike gebruik te betrek nie of hulle tydens die werk via aandkursusse nader te instrueer nie. Die University Bible Fellowship (U.B.F.) wat ortodoks is, is daar werksaam. Daarlangs staan die Inter-varsity Fellowship en altwee is weer lid van die International Fel­lowship of Evangelical Students (I.F.E.S.) Die Koreaanse U.B.F. het 2000 lede wat vir 90 persent uit heidense gesinne kom. Dit het geblyk dat studente uit christelike gesinne na binne gekeer is en nie vir sending geskik is nie. (!!!)

In Korea oefen die studente hulle om 'n hoofstuk uit die Bybel vers na vers uit te lê! As een 'n goeie opmerking maak, gebeur dit dat hulle handeklap. (Iets vir 'n Bybelkring by ons, broeders en susters?)

Helaas is daar in Korea 'n sterke onderskeid tussen dominees en leke. Die predikant is Jack of all trades.

Nou kan ons verstaan dat enige jare gelede 'n Kore­aan (Huh) te Kampen (Broederweg) gepromoveer het oor die onderwerp : die ouderling. Dat hy sy dis­sertasie in Nederlands gepubliseer het, is 'n wonder van die twintigste eeu. Maar waarom het hy nie En­gels gekies nie, dan sou die U.B.F. en I.V.F. en I.F.E.S. daarvan kon profiteer (het) om beter te kan profeteer.

Hoe dit ook al sy : 'n werklik Gereformeerde inbreng sal ook in Korea welkom wees soos in geheel Oos-Asië. En met Gereformeerd bedoel ons net : Bybelgetrou.

Laaste vraag. Kan ons iets vir Oos-Asië doen?

Antwoord: ja.

Ons kan dit in ons gebede betrek. Ons kan kontakte wat daar is en opvolg. Ons kan ons ook beywer om goeie lektuur in Engels aan te bied, want dit vind daar seker sy weg.

Daar was 'n Nederlandse veldprediker wat in die Korea-oorlog was. Hy het in diktate van teologische studente sitate gevind van Greijdanus en Schilder. Ja, mense, die pluimsaad waai ver.

V.d. W.